Terwyl ons dan so ʼn groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:1-2).
Søren Kierkegaard, ʼn Deense filosoof, het geskryf dat ons as gelowiges geroep is om vorentoe te leef, maar agtertoe te onthou.
Daarmee het hy die kenmerkende beweging of ritme van die Christelike lewe op ʼn kort en kragtige manier verwoord.
Want inderdaad ís dit so: Ons is geroep om die oue agter ons te laat, om nie vas te haak by onnodige skuldgevoelens, verwyte of sondes nie, maar om met blydskap en vryheid en oorgawe die wêreld te betree en te dien. Dit kan egter eers gebeur as ons voortdurend agtertoe leef, dit wil sê, vanuit die verhale en beloftes van God se Woord. Ja, as ons gedurig dáárheen terugkeer en dit die onmisbare bron van ons lewe maak.
Is dit nie hierdie agtertoe-herinnering wat die moedelose Emmausgangers se harte weer aan die brand gesteek en hulle met entoesiasme die pad na Jerusalem laat vat het nie (Luk 24:32)? En is dit nie hierdie soort herinnering waartoe die Hebreërskrywer ons oproep nie (Heb 12:1-2)?
Om agtertoe te onthou help ons om vandag voluit en met vreugde vorentoe te leef.
O Here, help ons om die herinneringe aan u beloftes nooit te vergeet nie, maar altyd daarheen terug te keer sodat ons voluit vorentoe kan leef. Amen.
Carel Anthonissen