“Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou” (2 Samuel 2:26).
In een van sy vele briewe uit die tronk skryf die teoloog Dietrich Bonhoeffer in ʼn stadium aangrypend oor die waarde van intermenslike verhoudings.
Die brief, gerig aan sy boesemvriend Eberhard Bethge, bevat onder meer die volgende woorde:
“In the long run human relationhips are the most important thing in life: the modern ‘efficient’ man can do nothing to change this.”
In ʼn tyd van die sogenaamde moderne doeltreffende mens waar slimfone, Facebook, Twitter en Instagram die toon aangee en waar baie mense mekaar opsoek sonder direkte oogkontak, is dit ʼn belangrike herinnering.
Boonop sluit dit aan by ʼn waarneming van die bekende Franse historikus Theodore Zeldin. In sy boek oor intimiteit beweer hy dat, al het die moderne mens tegnologies ver gevorder, ons nog in ons kinderskoene staan ten opsigte van die egte en intieme ontmoeting met ʼn medemens.
In die Bybel is daar min mooier voorbeelde van so ʼn intieme verhouding en vriendskap tussen mense as dié van Dawid en Jonatan. Daar is niks wat ons as moderne mense verhoed om steeds sulke verhoudings of vriendskappe te beproef nie.
Dit bly die belangrikste ding in die lewe.
Here, dankie dat U ons u vriende noem sodat ons ander mense as vriende kan ontmoet. Gee ons die moed om veral die vreemdeling in die oë te kyk. Amen.
Carel Anthonissen