Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense 2:6-7).
Berkhof, ʼn Nederlandse teoloog, skryf van God se “weerloze overmacht”. Hy sien hoe God in die skepping ruimte vir ander maak. Dié ruimte is nodig sodat die ander persoon, soos hy in Nederlands skryf, “partner moet zijn met wie God in ontmoeting en gemeenschap wil treden.”
Dit is juis verhoudings wat ons weerloos maak, want ons kan ander mense nie dwing om getrou te wees en lief te hê nie. ʼn Verhouding kan verbreek word. Daar is ruimte vir teleurstelling.
Berkhof beskou dit as sonde dat ons die ruimte wat aan ons geskenk is vir ons wil opeis. God se geskiedenis met Israel is een waarin God sien hoe sy planne misluk, maar steeds getrou bly en nooit sy partner dwing om aan sy kant te wees nie. Dit is hierdie weerloosheid wat in Jesus sigbaar was.
Maar dié weerloosheid is nie magteloosheid nie; dit besit net ʼn ander soort mag. Dié weerloosheid is ʼn teken van wat Berkhof as “overmacht” beskou. In sy weerloosheid steek God sy “overmacht” weg sodat Hy aan ons die ruimte kan gee om onsself te word.
God se partner. God se geliefde.
Dankie, Here my God, dat U my u kind, u partner, u geliefde maak en met my in gemeenskap tree. Amen.
Lisel Joubert