“Hy was verag en deur die mense verstoot, ʼn man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie (Jesaja 53:3).
John de Gruchy het ʼn aangrypende meditasie geskryf na aanleiding van ʼn gebed van Barbara Glassow, waarin sy onder meer bid: “May we live the daily adventure of faith trusting in the fragile God who stands eternally in solidarity with the struggling people of the earth.” Hy skryf dat ʼn mens half skrik vir die woord fragile, want hoe kan God weerloos of kwesbaar wees?
Die mag van liefde en deernis en die stryd om geregtigheid lyk maar gebrekkig langs kanonne en masjiengewere: “We begin to discern that this is in fact the power of the God of love and justice at work in history often using very fragile instruments and agents.”
Dit is dan ook so dat ons tog glo in die God wat Hom vereenselwig met die verstotenes, die randfigure, dié waarop neergesien word. Jesus self is uitgestoot. Hoekom herken ons Jesaja 53 dan so maklik? Die kerk lees Jesus al eeue lank raak in die woorde: “Hy was verag en deur die mense verstoot … Hy was verag, ons het Hom nie gereken nie” (Jes 53:3).
De Gruchy skryf: “This crucified God is the fragile God whose power of strong love forgives and restores, saves and makes whole, establishes justice and peace.”
Ek kies om te vertrou op U, Here, die weerlose God wat Hom met my vereenselwig, wat vergewe en herstel, wat red en heel maak en wat reg en geregtigheid laat geskied. Amen.
Lisel Joubert