“Waarom maak julle dit vir die vrou moeilik? Sy het ’n goeie daad aan My gedoen. Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie” (Matteus 26:10-11).
In drie van die Evangelies vind ons die verhaal van die vrou wat olie in oordaad op Jesus uitgegooi en Hom gesalf het (Matt 26; Mark 14; Joh 12). Die besonderhede verskil, maar die omstanders se ongemak is in al drie weergawes teenwoordig.
Dit is een te veel! Dit wat die olie werd was, kon vir die armes gegee word. Jesus antwoord egter dat hulle die armes altyd by hulle sal hê, maar dat Hy net nou by hulle is en dat hierdie salwing ʼn erkenning van sy koningskap is.
Soms is Jesus se antwoord ook só gelees: “Dit help nie veel om die armes te help nie, want die armes is maar altyd daar.” Die omstanders sou dit nie só gehoor het nie.
Jesus haal hier Deuteronomium 15:11 aan: “Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het Ek jou beveel om vrygewig te wees …” Die 1953-vertaling lees: “Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer …”
Dit is juis in oorvloedige aanbidding dat toe hande oopgaan. Dieselfde hande wat in lof na bo opgaan, gaan oop na dié in nood.
Maak my hart en my hande oop, Here, na U en na dié in nood. Amen.
Lisel Joubert