Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ruimte geskep

So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (Jakobus 2:17).

Lied 396:4 in Liedboek van die kerk bevat ʼn pragtige woord: ruimte. Dié vers lui soos volg: “Hom kan ek nou met vreugde dien in ruimte deur sy kruis voorsien.”

Jesus se dood en opstanding het ons vrygemaak om te dien. Omdat ons nie meer ons swaar sondelas hoef saam te sleep en self ons heelheid hoef te bepaal nie, kan ons voluit na ons naaste toe leef. Ons huisgesin, werkplek, aanbiddingsplek, dorp en omgewing word alles ruimtes waar ons in vryheid Christus kan leef. Ons gaan by ruimtes in, maar skep ook ruimtes – groepe en plekke waar mense kan heel word en aanvaarding beleef.

In Psalm 31:9 dank die psalmdigter God te midde van beproewing en vervolging omdat God hom gered en sy voete op ʼn ruim plek laat staan het. Ook Efesiërs 2:10, wat volg op Paulus se herinnering aan God se goedheid en genade, herinner ons dat daar vir ons nuwe plek voorberei is om te leef soos God dit wil: “Van Hom is ons immers ʼn maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke te doen en daarvolgens te leef, soos God dit voorberei het.”

Ek wil U met vreugde dien in die ruimte wat U deur u kruis vir my geskep het, Here, my Verlosser. Amen.

Lisel Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.