Boodskap vir Vandag

Search

ʼn Kykie in die koninkryk

Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom” (Matteus 4:17).

Die woord koninkryk was nog altyd vir my ʼn vae woord wat ek sukkel om vas te vang. Dié woord word baie in die Nuwe Testament gebruik, maar dit is asof elke skrywer binne sy konteks ander assosiasies daarmee maak. Miskien is koninkryk een van daardie woorde wat ʼn mosaïek van betekenisse het; ʼn woord wat meer as een beeld of beskrywing insluit en verskillende perspektiewe gee.

Ons weet die koninkryk het met Jesus se koms na die aarde aangebreek, maar dat ons nou eers net ʼn kykie daarop kry. Dit is soos ʼn ligte gordyn wat voor ʼn oop venster hang: Nou en dan waai die wind die gordyn vinnig op en jy sien vlugtig die wêreld daar buite. Net só word die koninkryk sigbaar in oomblikke waar liefde, deernis en goedheid is.
Miskien is dit ons as kerk se taak om aan die wêreld meer sulke kykies op die werklikheid te gee, want net soos die wêreld buite die venster is die koninkryk reeds hier – ons kyk dit net soms mis.

God se koninkryk en heerskappy het immers aangebreek toe Jesus tussen ons kom woon het.

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom. Want aan U behoort die eer en die heerlikheid en die krag tot in ewigheid. Amen.

Lisel Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.