Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie” (Genesis 28:16).
Die sakramente se simboliek herinner ons hoe God is en hoe Hy werk. En die verhaal van Jakob in Genesis 28 het my nog altyd gehelp om die doop te verstaan.
Jakob, die kleinseun van Abraham aan wie God verbondstrou belowe het, hardloop weg van Berseba na Haran. Weg van sy broer wat hy verkul het. Elke aand gaan lê hy met sy kop op ʼn klip. Een aand (tussen baie aande op sy reis van 800 km) droom hy van ʼn trap wat hemel en aarde verbind. God praat met hom – beloftetaal en verbondstaal. Ten spyte van sy onlangse misstap reën die beloftes op hom neer. Hoekom? Omdat God aan sy beloftes aan Abraham se nageslag getrou is. Die beloftes tel meer as die karakter van die een aan wie die beloftes gemaak word.
Ons bring ons kinders na God toe omdat God ons kies voordat ons onsself kan bewys. Hy kom haal ons terwyl ons nog ver is. Hy bevestig en Hy gee hoop. Ons is die ontvangers van die water, die brood en die wyn en, bowenal, die lewe.
Dankie dat U ons eerste gekies het, dat U ons kom haal het toe ons nog ver van U af gestaan het. En dankie vir die water, die brood en die wyn én die ware lewe. Amen.
Lisel Joubert