Terwyl ons dan so ʼn groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof (Hebreërs 12:1-2).
Dink ʼn bietjie aan mense wat al dood is, maar wat jou deur hulle volharding geïnspireer het.
Halloween, wat vandag erg gekommersialiseer is, is afgelei van die woorde all hallows eve. Hallows beteken “heiliges”. Die aand voor Allerheiligedag (31 Oktober) het mense die dood bespot en uitgelag omdat die dood nie die laaste sê het nie.
Dit herinner aan die vroeë kerk wat op Paassondag altyd grappe in die liturgie vertel het om die dood uit te lag, want waar is sy angel?
Ons is nie die eerste of laaste gelowiges nie. Ons is deel van ʼn skare wat ons vooruitgegaan het en wat ná ons sal kom. Ons is nooit alleen nie. Volgens Hebreërs 12 help die wolk van getuies ons om van ons laste en sonde ontslae te raak en die wedloop te hardloop met ons oë gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof.
Ook ons kan ʼn erfenis en voorbeeld van genade vir ons kinders en kleinkinders nalaat.
Dankie vir die voorreg om deel van ʼn wolk van geloofsgetuies te wees, Here, gelowiges wat my inspireer om my oë op Jesus gerig te hou en my wedloop met volharding te hardloop. Amen.
Lisel Joubert