Dit verseker Ek julle: “Wie die koninkryk van God nie soos ʼn kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” (Markus 10:15).
Om saam te speel is soms die beste vorm van kommunikasie.
Ook die beste manier om die vervreemding en wantroue wat so dikwels tussen mense bestaan, hok te slaan.
Dit ontdek ek onlangs weer tydens ʼn pelgrimstog in Denemarke saam met vyftien ander Suid-Afrikaners. Op die derde dag van ons staptog sluit sewe Kroate uit Iran by ons aan. Hulle is vlugtelinge sonder enige heenkome of werk. ʼn Plaaslike kerk in Denemarke sorg tydelik vir hulle.
Aanvanklik lol dit. Behalwe vir die natuurlike vrees en wantroue jeens die vreemdeling het ons ook nie die taal om mekaar te verstaan nie. ʼn Vriendelike glimlag en ʼn wuif met die hand moet vir eers doen. Totdat ons ontdek: Ons kan saam speel.
Danksy my Deense vriend wat altyd speletjies byderhand het, begin ons al spelend die klowe oorsteek, meer luidkeels saam met mekaar lag, groter gebare van toegeneentheid en begrip maak. Sodat ons, toe die afskeidsuur drie dae later aanbreek, mekaar met trane omhels en vashou.
En dit omdat ons vir een oomblik die verskille en vrese vergeet het en bereid was om soos kinders spontaan en onbevange saam te speel.
Wie weet, miskien het Jesus dít in gedagte gehad toe Hy ons aangemoedig het om soos kinders te word. Want dít weet ons tog: Kinders kan spéél.
Here, dankie vir die gawe en geleentheid om te speel, waardeur ons vandag weer brûe tussen mense kan bou. Amen.
Carel Anthonissen