Die dwaas wys dadelik dat hy beledig voel; ʼn verstandige mens laat nie blyk dat hy gekrenk is nie (Spreuke 12:16).
In Galasiërs 6:2 nooi Paulus ons uit om mekaar, ja, die ander se laste te help dra en só Christus se gebod van liefde te vervul. Hoe belangrik en nodig het dit nie geword om dié gebod vandag in ons land uit te leef nie.
Ek het ʼn vriend wat altyd vrugte in sy motor saamry en dit uitdeel waar mense gebrek ly. So help hy voorsien in hulle nood – en só dra hy op ʼn beskeie manier saam aan die las van hulle armoede, hongerte en ontbering.
Daar is egter sekere laste wat ons nie van ander moet oorneem en dra nie. Dit is wanneer iemand hulle emosionele bagasie, daardie onverwerkte kwellings en komplekse, op ons begin projekteer, asof óns daarvoor verantwoordelik is. Asof óns heeltyd daarvoor moet instaan en daaroor skuldig moet voel.
Om die een of ander rede laat ons toe dat dit gebeur, veral wanneer dit familie of goeie vriende is wat dit aan ons doen. Wanneer dit mense is teenoor wie ons ʼn bepaalde verantwoordelikheid voel. Sonder om ons verantwoordelikheid te ontduik of ons tekortkominge te ontken, moet ons egter daarteen waak dat ander se onvolwasse obsessies en optredes ons eiewaarde en selfvertroue onnodig ondermyn en ons sleg oor onsself laat voel.
Ons almal is immers die geliefdes van God wat geroep is om ander se laste ligter te maak, nie swaarder nie.
Here, help ons vandag onderskei tussen daardie laste wat ons ander moet help dra en dié wat ons moet los. Amen.
Carel Anthonissen