Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie (Romeine 12:21).
Dietrich Bonhoeffer, die bekende teoloog, het geskryf dat die groot uitdaging van sy tyd daarin bestaan het dat mense hulle siel gesond sou hou.
Dit wil sê, dat hulle nie sou toelaat dat die uiterlike omstandighede van verval en korrupsie hulle innerlike so sou aantas en skend dat hulle die hele tyd teen alles sou moes baklei nie; dat hulle nie so negatief en sinies sou raak dat hulle niks meer konstruktief sou kon verrig of bydra nie.
Laasgenoemde gebeur natuurlik maklik, veral wanneer jy soggens die koerant oopmaak en van nog ʼn moord, nog ʼn verkragting, nog ʼn geval van korrupsie of nog ʼn geval van magsmisbruik lees. Of wanneer jy die pad vat en vir die soveelste keer moet aanskou hoe mense blatant die padreëls oortree, oor ʼn rooi verkeerslig jaag of oor ʼn wit sperstreep verbysteek.
Die gevaar is dat jy sal toelaat dat hierdie slordige en onverantwoordelike gedrag jou lewe permanent versuur en jou gemoed of gees vergiftig. Dit mag nie, hoe moeilik die stryd daarteen ook al is.
Nee, om positief, verantwoordelik en konstruktief te bly leef, al is dit net in jou eie kring, bly ons grootste uitdaging. Daarop mag ons as gelowiges nooit skietgee nie.
Hoewel jy sal saamstem, dit vra ʼn daaglikse en doelbewuste keuse.
O Here, hou ons positief. Gee ons die moed en krag om elke dag op te staan teen onreg sonder dat dit ons gees vergiftig. Amen.
Carel Anthonissen