So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie. Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe (Esegiël 33:11).
Wat dit beteken dat die God van Jesus ons tot die uiterste toe liefhet, sien ons nêrens mooier en duideliker as in Esegiël 33:7-11 nie.
Daar hoor ons die volk Israel kla dat hulle lewe verby is. Dat daar geen sin of doel meer bestaan om verder te leef nie. Want hulle sonde en opstandigheid teen God het hulle ingehaal. Asof ʼn gebou op hulle ineengestort het, voel die Israeliete vasgeval. Hulle vergaan onder die gewig en las van hulle vergrype en sondes.
Hoe moedeloos en uitsigloos die volk gevoel het, word mooi in Eugene Peterson se vertaling weergegee. Ons hoor hulle kla: “We’re wasting away. How can we go on living?”
Tereg het God rede gehad om sy volk in dié stadium te vergeet en in hulle ellende te los. Maar soos so dikwels in die bewoë geskiedenis tussen God en sy volk gebeur het, kry God dit nie reg nie. Daarvoor is sy deernis en intense liefde vir sondaars net te sterk.
Daarom God se verrassende reaksie: “So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie. Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe.” In die 1933-vertaling word hierdie liefde-sentiment van God nog sterker verwoord: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie” (Eseg 33:11).
Dié woorde bevat reeds die belofte dat God die Israeliete nooit sou prysgee nie. Dat God sy volk Israel tot die einde toe, ja, tot die uiterste toe sou bly liefhê.
Net soos vir jou wanneer jy vandag voel jy verdien geen liefde of vergifnis meer nie. Wanneer jy voel jou lewe is verby. Nee, God wil dat jy sal leef!
O Here, ons ken die las van sonde wat ons lus om te leef blus. U vergewe en gun ons egter vandag ʼn nuwe kans om te leef. Help ons om dit te bly glo. Amen.
Carel Anthonissen