Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel? (Esegiël 33:11).
Dat God ons tot die uiterste toe liefhet, beteken onder meer dat God nie ʼn passiewe minnaar is nie.
Soos die pa van die verlore seun, wag God nie passief op die terugkeer van sy kinders nie. Toe die jongste seun op ʼn dag berouvol in die verte verskyn – so lees ons – hardloop die pa hom tegemoet, omhels hom en soen hom hartlik. Die pa dra hom as’t ware die huis binne (Lukas 15:11-24).
Meer nog, soos die goeie herder wat besorg is oor elk van sy skape, gaan soek God daadwerklik na daardie enkele een wat afgedwaal en verlore geraak het. God doen spesiale moeite om net hierdie één skaap terug te bring na die kudde, selfs al beteken dit Hy moet die ander tydelik agterlaat (15:3-7).
Omdat God ʼn jaloerse God is wat besorg waak oor die heil en geluk van mense, ja, oor die skape van sy weiding, bevat sy liefde altyd ʼn appèl, die aandrang op ʼn antwoord. En wanneer die antwoord nie kom nie, praat God dikwels harder, roep God sterker, vermaan en waarsku God dringender – ja, vra God, soos hier in Esegiël, ʼn daad van omdraai en terugkeer. Kortom, bekering. Want God wil dat ons sal leef.
Ons weet immers uit eie ervaring dat ware liefde wat werklik besorg is oor die wel en wee van die ander, ook die moed behels om reguit en eerlik te praat. Om nooit te huiwer om te vermaan en aan te spreek nie. Om die ander op te roep tot berou en verandering. So ʼn liefde is dikwels “tough love”, soos die Engelse sê.
Maar daarsonder sal ons verhoudings kunsmatig, leeg en oppervlakkig bly. Ook hierop moet jy bedag wees wanneer jy jou in die arms van Christus begeef.
Here, ek het U lief, hoe lomp en onvolkome ook al. Ek wil vandag opnuut na U toe draai. Dankie dat U sondaars vergewe en ʼn berouvolle hart nooit verwerp nie. Amen.
Carel Anthonissen