Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hoekom so kwaad?

Almal in die sinagoge was woedend toe hulle hierdie dinge hoor. Hulle het opgespring, Hom uit die dorp uitgejaag (Lukas 4:28-29).

Ek is altyd gefassineerd oor wat woede in iemand wakker maak. Woede is ʼn sterk krag, soms ten goede, soms ten kwade. Ek kan briesend kwaad word as iemand ʼn hond skop of ʼn kind sonder rede slaan.

Woede kom egter ook na vore wanneer ons iemand ontmasker en sy of haar ego ontbloot.

In Lukas 4, met Jesus se “intreepreek” in sy tuisdorp Nasaret, maak Hy die gehoor so kwaad dat hulle Hom uit die dorp verdryf en van die krans af wil gooi.

Dink ʼn bietjie oor so ʼn woede. Wat het die gehoor so ontstel? Jesus het hulle tog bloot aan twee verhale herinner, twee kere toe God deur nie-Israeliete sy grootheid getoon het – deur die weduwee van Sarfat en deur Naäman die Siriër.

Jesus het daardie dag die genadejaar kom aankondig, maar sonder grense, nie net vir die Jode nie. Dit is dié boodskap wat sulke diep emosies wakker gemaak het. Genoeg om iemand dood te maak.

Dit is ons sterk emosies wat ons moet laat nadink oor die feit dat ons ook glad nie daarvan hou wanneer Jesus ons oor ons selfsug konfronteer nie.

Here, gee my die genade om oor die regte dinge kwaad te raak, en dan ook iets te doen om die verkeerde reg te stel. Amen.

Lisel Joubert

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.