Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie” (Job 42:7).
Job se wysheid help ons verstaan dat niks so eenvoudig is nie. Dat ons vir God en die lewe nie in boksies kan inpas wat alles vir ons gemaklik en hanteerbaar maak nie.
Binne die oorsaak-en-gevolg-wêreld waarin Job en sy vriende geleef het, moes sy lyding ʼn oorsaak gehad het, naamlik ongeregtigheid of sonde. Job moes iets verkeerds gedoen het.
Hoofstuk ná hoofstuk maan, raas en pleit sy vriende dat Job tog sy skuld moet bely sodat die slegte dinge kan wyk. Job ignoreer egter hulle redenasies en pleit by God. Hy vat God aan. Hy soek antwoorde by God. Hy wag …
Aan die einde van die boek Job sê die Here: “Ek is kwaad vir jou en jou twee vriende, want julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie … My dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf vir julle dwaasheid nie. Julle het nie die waarheid oor My gepraat soos my dienaar Job nie” (42:7-8).
Hoekom nie? Hulle het God (en Job) probeer indruk in hulle siening van hoe dinge is en moet wees.
Here, help ons om nie net te praat sonder om te dink nie. Laat ons reg praat, die waarheid praat, veral oor U. Amen.
Lisel Joubert