God laat eensames weer in ʼn huisgesin woon (Psalm 68:7)
Onlangs maak ʼn ouer vriend van my ʼn betekenisvolle, maar baie hartseer opmerking.
Sy opmerking klink amper soos ʼn klagte.
Hy vertel hoe hy onlangs by sy kinders oorsee gekuier het. Hulle is ʼn jonger geslag met ʼn eie vriendekring en ʼn hoogs tegniese werk. Albei dié fasette van hulle lewe vloei voluit saam met die stroom van die moderne lewe: slimfone, Apple-rekenaars, die nuutste TV’s, klankstelsels, ensovoorts.
Tydens sy besoek dring dit geleidelik tot hom deur dat sy en sy kinders se wêrelde, roetines en belangstellings uitmekaar gegroei het. En hoe min hulle eintlik vir mekaar te sê het. En dít, so vertel hy met ʼn traan in die oog, het hom onsettend eensaam gelaat.
Ja, dit bly hartseer, veral omdat ons in Psalm 68 lees dat God, wanneer God sy volk verlos, juis die eensames in ʼn huisgesin wil laat woon. Wat beteken die familie, die huisgesin, moet ʼn bolwerk teen die eensaamheid wees. Ook wanneer jy eendag, soos alle mense, oud word en eensaam sterf, bly jou gesin, jou familie, die mense wat jou moet omring en jou hand moet bly vashou.
En as dit om die een of ander rede nie kan gebeur nie, is die huisgesin van gelowiges, die gemeente, die plek waar ons moet sorg dat mense nie eensaam en verlore raak nie.
O Here, help ons om vandag ʼn toevlug vir die eensames te wees. En wees U self by ons in óns eensaamheid. Amen.
Carel Anthonissen