Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion ʼn klip, ʼn hoeksteen, uitverkore en kosbaar; en wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie” (1 Petrus 2:6).
Tydens ʼn vriendin se ernstige siekte beleef ek weer hoe ontoereikend ons woorde in sulke situasies kan wees.
Dikwels is dit dan genoeg om net dáár te wees – stilswyend, maar náby.
Tog móét ons soms praat. Dit word van ons verwag. En dan is die kuns om woorde te vind wat eg en eerlik is. Wat die hart kan aanraak en die nodige troos kan bied.
Soos die woorde van die teoloog Dietrich Bonhoeffer wat hy destyds vanuit die tronk geskryf het – woorde wat deurdrenk was met die pyn van sy eie lyding en eensaamheid. En wat daarom dié in soortgelyke omstandighede kon troos.
Dié woorde sluit aan by 1 Petrus 2:6 en lui: “Al weet ons nie altyd die uitkoms nie – één ding weet ons: Hý sal ons nooit beskaam nie.”
Ek het hierdie woorde al dikwels in situasies van ernstige siekte en lyding gedeel, juis omdat dit vir my soveel troos en hoop bied.
Tot vandag toe.
Here, wat ʼn troos om te weet U is daar. Wat ook al gebeur, U sal ons nooit beskaam nie. Ons dank en loof U vir dié wete. Amen.
Carel Anthonissen