Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Om God weer herkenbaar te maak

Net so moet julle julle lig voor die mense laat skyn sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, kan verheerlik (Matteus 5:16).

In een van sy laaste radio-onderhoude praat die digter-sanger Leonard Cohen aangrypend oor die waarde van sy Joodse agtergrond.

Hy verwys onder meer na een van die groot temas van die Kabbalistiese denke, die meer mistieke kant van die Judaïsme. Dit is die gedagte dat die Joodse denke deurlopend aangedryf word deur die verlange om God se aangesig in die wêreld te herstel.

Met die skepping, so lui die argument, is die beeld van God oor die hele aarde versplinter. Die groot taak van die Jodedom sou dan wees om God se beeld of aangesig weer te herstel en sigbaar te maak. Trouens, baie van die Joodse gebede, volgens Cohen, is ʼn herinnering aan God dat God vroeër ʼn herkenbare en harmoniese eenheid was.

Hoe ons ook al Cohen se woorde aanhoor of daarvan verskil, sy verwysing na die groot impuls agter hierdie mistieke vertakking van die Joodse godsdiens bly ʼn belangrike herinnering, ook vir ons as Christene. Dit is dat ons geroep is om elke dag deur ons woorde en ons dade iets van God se aangesig op aarde sigbaar te maak. Ja, om iets van God se beeld op aarde en in ander mense se lewe te help herstel.

Is dit nie ook waarop Jesus sinspeel wanneer Hy ons in Matteus 5:16 oproep tot goeie werke waardeur mense iets van God kan sien en God só kan verheerlik nie?

Here, ons leef in ʼn wêreld waarin U nie meer herken of erken word nie. Help ons vandag om deur ons woorde en ons dade iets van u beeld af te skadu sodat mense weer kan glo. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.