Moet niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar rig julle gedagtes op dit wat vir alle mense goed is. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense (Romeine 12:17-18).
Ons almal ken die verraad van ʼn vertroueling.
Dit is wanneer iemand wat jy vertrou het, wat naby aan jou was en op wie se vriendskap en lojaliteit jy volkome gereken het, jou op ʼn dag skielik in die steek laat – selfs teen jou draai en jou kwaadwillig beledig of te na kom.
Dié pynlike ervaring is natuurlik nie beperk tot mense of kringe buite die kerk nie. Die hartseer is dat dit ook binne die hart van die Christelike gemeenskap gebeur. En dít terwyl ons juis dáár geroep is om draers van vrede, versoening en liefde te wees.
Oor dié dilemma en hoe om dit met integriteit te hanteer het die leier van die Taizé-gemeenskap, Broer Roger, eenmaal aangrypend en troosvol geskryf. Sy woorde was:
“There are countless Christians who would like to be bearers of peace in that communion of love that is the church. They are not naive when confronted with abuses that undermine communion, but they keep striving for silence and love with all their soul.”
Sy raad klink dalk moeilik, selfs onmoontlik, maar om te midde van kwaadwillige verraad stilte te beproef en weë van liefde te bedink, bly die uitnemende weg.
Here, leer ons vandag weer die meer uitnemende weg – om nie terug te slaan wanneer ons verontreg word nie, maar om in stilte op U te wag en die spoor van liefde te volg. Amen.
Carel Anthonissen