Die Here is my herder, ek kom niks kort nie (Psalm 23:1).
Dit is altyd die moeite werd om na sekere tekste of boeke terug te keer en hulle met nuwe aandag te lees.
Só ontdek ʼn mens dikwels nuwe waarhede of jy kry ʼn vars perspektief op ou waarhede. Boonop word jy ouer en ryper. Wat daartoe bydra dat jy sekere waarhede beter verstaan of dinge raaksien wat jy voorheen gemis het.
So lees ek onlangs weer Psalm 23, sekerlik die bekendste psalm in die Bybel. Trouens, as daar een psalm is wat ek vandag nog woord vir woord uit my kop ken, is dit dié psalm. Tog sien ek by die herlees van hierdie psalm iets daarin raak wat ek vroeër nie so duidelik bemerk het nie.
Ek sien die volkome sekerheid en selfs blye oortuiging waarmee die psalmdigter in hierdie hele psalm sy geloof in die goedheid, sorg en trou van God bely, ja, dit selfs besing. Anders as die hedendaagse mens wonder hy nie oor God se bestaan of oor die vraag of God ʼn persoonlike God is wat sorg nie. Sonder huiwering, sonder enige sweem van twyfel, jubel hy dit uit:
“Die Here is my herder, ek kom niks kort nie” (v 1). En later: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie” (v 4). En uiteindelik: “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly” (v 6).
Merkwaardig! Maar tot by dié sekerheid kan, ja, moet ons geloof uiteindelik groei.
O Here, saam met die psalmdigter wil ek vandag met sekerheid bely en dit ook glo: U is my herder. Ek kom niks kort nie. Amen.
Carel Anthonissen