“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op aarde vind?” (Lukas 18:8).
“Waak en bid sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matteus 26:41).
In sy nuutste boek Geloof alleen, wat ʼn merkwaardige en vars perspektief op die kerkhervorming oor die eeue heen bied, vertel die skrywer André Pretorius ʼn wonderlike verhaal.
In 2015 het hy die Katolieke klooster Nortre-Dame de Scourmont naby Chimay in België besoek. Vroeër jare het daar tot 85 monnike gewoon en gewerk, maar hierdie getal het oor die jare heen tot 20 gedaal.
Dit het hom die vraag laat vra of daar nie ʼn tyd sal kom wanneer daar geen Christene meer sal oor wees nie. Hierop het ʼn bejaarde monnik hom insiggewend geantwoord. Terwyl hy effens geglimlag het, het hy Pretorius na Lukas 18 verwys – die gelykenis van die onregverdige regter wat uiteindelik aan ʼn weduwee gehoor gegee het nadat sy onophoudelik by hom gesanik het. Dié gelykenis eindig met Jesus se vraag: “Maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel geloof op die aarde vind?” (Luk 18:8).
Dít, het die bejaarde monnik aangevoer, is die roeping van die kloosterbestaan. Solank daar in die kwynende kloosters van die ou wêreld gebede uit die kele van toegewyde afgesonderdes soos hy opklink, sal die antwoord op my vriend se vraag altyd ja wees.
Wat my laat wonder of ons in dié opsig nog elke dag op ons pos is.
O Here, help ons bid. Maak ons meer getrou sodat mense rondom ons in U kan glo. Amen.
Carel Anthonissen