Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

ʼn Nuttige kompas

Maar aan elkeen van ons is ʼn genadegawe geskenk soos Christus dit uitgedeel het (Efesiërs 4:7).

Joyce DiDonato is een van Amerika se beste sangeresse wat gereeld in die bekende Metropolitan Operahuis in New York optree.

In 2014 het sy ʼn aangrypende toespraak by die gradeplegtigheid van die befaamde Juilliard-musiekskool gelewer. Nadat sy die jong studente meer vertel het van haar moeilike pad om bo uit te kom, het sy enkele waarhede met hulle gedeel – waarhede wat haar oor die jare heen gehelp het om haar volle potensiaal as sangeres te verwesenlik.

Wanneer hulle hierdie waarhede die eerste keer hoor, het sy hulle gewaarsku, kan dit dalk soos slegte nuus klink. Maar, het sy vervolg, as jy net sou toelaat dat dit jou denke uitdaag en dit selfs verbreed, dit wil sê, jou nuut laat nadink oor jou lewe, sal jy dalk op ʼn dag ontdek dat jy ʼn nuttige kompas in die hand het – een wat jou kan help om nie net jou talent of gawe optimaal te ontwikkel nie, maar wat jou veral die krag sal gee om jouself, ander mense en uiteindelik die wêreld ten goede te verander.

Dit is immers hoekom die Here aan ons elkeen van gawes gegee het, nie waar nie? In die volgende oordenkings sal ek oor enkele van DiDonato se lewenswaarhede gesels. En wys hoe hulle elkeen iets van die evangelie adem. Dié evangelie wat ons daaraan herinner dat ons elkeen ʼn unieke genadegawe van Christus ontvang het.

En dat dit ʼn wonderlike skat bevat.

Dankie, Here, dat U ook aan my ʼn genadegawe geskenk het. Help my om dit vandag tot u eer te omhels en te ontwikkel. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.