Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Romeine 12:3).
In 2014 gee die wêreldberoemde Amerikaanse sangeres Joyce DiDonato kosbare raad aan jong studente aan die bekende Juilliard-musiekskool in New York.
Haar eerste stukkie raad is dat hulle van die begin af moet aanvaar dat hulle, om dit kras te stel, nooit volkomenheid sal bereik nie. “You will never make it.” Dié stelling, het sy gesê, klink dalk aanvanklik na baie slegte nuus, maar as jy dié waarheid mooi bedink, skuil daar ʼn oorweldigende stuk goeie nuus in.
Want deur dít te aanvaar besluit jy allereers om jou lewe en loopbaan te sien as ʼn unieke reis wat nooit regtig sal ophou nie. In haar woorde:
“As an artist you will never arrive at a fixed destination. This is the glory and the reward of striving to master your craft and embarking on the path of curiosity and imagination, while being tirelessly in pursuit of something bigger than yourself. There is always that one note that could have soared more freely, that one line reading that could have been more truthful, that one adagio that could have been a touch more magical. There will always be more freedom to acquire and more truth to uncover.”
In ʼn wêreld waarin ons behep geraak het met sukses en finale uitkomste en waarin ons mekaar dikwels vertrap om bo uit te kom, is dit ʼn bevrydende waarheid. Een wat ons help om, soos die Bybel ons leer, ons beperkings en mislukkings te aanvaar, maar terselfdertyd met geduld en geloof daaraan te werk om ons Godgegewe gawes na ons beste vermoë te slyp en te verbeter.
Here, ons aanvaar vandag dat ons beperk en eindig is. Dat ons beste gawes en werk meestal onvolkome is. Help ons tog om dit deur u krag steeds te ontwikkel. Amen.
Carel Anthonissen