Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Efesiërs 2:10).
Wat die diens waartoe ons almal en veral kunstenaars elke dag geroep word konkreet beteken, het die sangeres Joyce DiDonato pragtig verwoord in haar toespraak voor die studente van 2014.
“Julle,” so herinner sy die studente, “is dienaars van die oor wat troos soek, die oog wat die verkwikking van skoonheid nodig het en die hart wat na stille begrip en ʼn veilige landing verlang.
“By julle moet dié wat siek is heling deur die skoonheid en vrede van ʼn pragtige simfonie ervaar. Dié wat verlore voel, moet deur julle troosvolle woorde en liedere gered word. En dié wat in hulle woede en verwarring vasgeval is, moet bevryding ervaar wanneer hulle julle eie trane op die verhoog of op ʼn skerm sien vloei.”
Aangrypend sluit sy dan af:
“You are a servant to the eager, naive, optimistic ones who will come behind you with wide eyes and wild dreams, reminding you of yourself, as you teach and mold them, even though you may be plagued with haunting doubts yourself – and you will reach out to them and generously invite them to soar and thrive, because we are called to share this thing called Art.”
In Efesiërs 2:10 skryf Paulus oor ons ware roeping in die wêreld en beskryf dit in soortgelyke terme: Ons is in Christus geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het.
In Grieks beteken dit letterlik ons is geskep om ʼn troosvolle gedig van God vir ander te wees.
Here, U het ons geskep om ʼn troosvolle gedig of ʼn blye lied vir ander mense te wees. Help ons om trou te bly aan hierdie spesiale roeping. Amen.
Carel Anthonissen