Ek het gesê: “Ek wil sorgvuldig let op my lewe en nie sondig met wat ek sê nie. Ek wil nie ʼn woord praat as ʼn slegte mens my teëstaan nie” (Psalm 39:2).
Wanneer jy wag, is dit moontlik dat jy meer oplettend sal raak. Om lank te staan in die ry in die poskantoor kan maak dat jy presies weet hoeveel nate daar in die toonbank is omdat jy hulle tel. Of jy maak denkbeeldige stories op oor die persoon voor of agter jou in die ry.
Die oomblik wanneer jy wegbeweeg van jou irritasie kan jou verbeelding oorneem. Wanneer jy moet wag, het jy die keuse waarop jy jou aandag wil fokus. Wag in die ry … of wag in ʼn seisoen in jou lewe terwyl jy op uitkoms wag.
Miskien kan jy bewus word van ʼn groter prent te midde van jou geringe of kortstondige ongemak. Die woorde van Psalm 39 maak dit moontlik. Lees jy die hele psalm, ontdek jy dit praat oor liggaamlike en emosionele swaarkry. Tog lees ons in vers 2: “Ek het gesê: ‘Ek wil sorgvuldig let op my lewe en nie sondig met wat ek sê nie. Ek wil nie ʼn woord praat as ʼn slegte mens my teëstaan nie.”
Elke tyd van wag vra van ons ʼn keuse oor die ingesteldheid wat by die situasie en die groter verhaal van God pas.
So dikwels moet ek wag, Here. Rig my oë op u groot verhaal en hoe ek daarin inpas sodat ek die regte fokus en gesindheid sal hê. Amen.
Lisel Joubert