Toe het God die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën (Genesis 1:27-28).
God se onverdiende seën in ons lewe lê natuurlik op vele vlakke.
Die eerste en belangrikste vlak is die seën of gawe om gebore te word, om te kan leef, om mens hier op aarde te wees.
Oor hierdie eerste vorm of vlak van God se seën skryf John O’Donohue, ʼn Ierse geestelike, aangrypend. Luister net:
Nowhere does the silence of the infinite lean so intensely as around the form of a newly born infant. Once we arrive in the world as a child we enter into the inheritance of everything that has preceded us; we become heirs into the world. To be born is to be chosen. To be created and to come into the world is to be blessed. Some primal kindness chose us, and brought us through the forest of dreaming into the clearance of individuality, with a path of life opening before us through the world.
Dit is dan geen wonder nie dat Haydn in sy oratorium Die skepping die man weer en weer laat uitroep wanneer hy tot lewe ontwaak en sy vrou langs hom ontdek: “Hoe wonderbaar, hoe ongelooflik wonderbaar!”
Sonder dié blywende verwondering oor God se seën wat ons tot lewe gebring het, stomp ons maklik af en kan ons lewe redelik vaal bly.
Here, om hier te wees, vandag, op hierdie plek, tussen hierdie mense, is geweldig. Laat my vandag weer in verwondering staan oor die voorreg om te mag leef, al is my lewe soms swaar. Amen.
Carel Anthonissen