Boodskap vir Vandag

Search

Die seën van ʼn gelukkige familie

Jou vrou is in jou huis soos ʼn vrugbare wingerdstok, jou seuns is rondom jou tafel soos jong olyfboompies! Kyk, so word die man geseën wat die Here dien (Psalm 128:3-4).

Heg verbind aan die seën om as mens gebore te word en só deel van die goeie lewe op aarde te wees, is natuurlik die seën om deel van ʼn gelukkige huisgesin en familie te wees.

Dit is om omring te wees van geliefdes wat vir ons omgee. Wat dit op hulle neem om ons lewe lank by ons te staan – ons te begelei, te ondersteun en te versorg.

In sy oorspronklike betekenis dui die woord vir familie op dié, jou naaste bloedverwante of stamverwante, wat saam met jou onder dieselfde dak woon of vertoef. En wat soos ʼn goeie dienaar (famulus) verantwoordelikheid vir jou lewe, jou veiligheid, jou groei en jou opbloei as mens aanvaar.

Daar is kwalik ʼn groter seën as om die wêreld in die geselskap van so ʼn sorgende en liefdevolle kring mense te betree.

Wie dié voorreg geniet, moet egter weet dat daar duisende rondom hulle is vir wie die spreekwoordelike dobbelsteen in dié opsig verkeerd geval het. Mense wat uit ontwrigte of abnormale huisgesinne kom, of wat selfs daarin gebore word: families sonder ʼn pa of ʼn ma. ʼn Donker sfeer waar verwaarlosing, verwerping en selfs geweld die daaglikse patroon geword het.

Tereg herinner John O’Donohue ons: “If your destiny is sheltered, may the grace of this privilege reach and bless the other who are destined for torn places.”

O Here, dankie vandag vir familie by wie ons geborge, aanvaar en versorg voel. Ons dink vandag aan duisende wat nie hierdie voorreg het nie. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.