Maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ʼn vrou … sodat ons as sy kinders aangeneem kon word (Galasiërs 4:4).
Adventtaal is vol geboorte-taal en swangerskap-taal. Dit is ook reg so, want ons verlang na die geboorte van ʼn Kind.
Geboorte is die oorgang na ʼn nuwe tyd, maar nie sonder pyn nie. Geboorte is letterlik én figuurlik.
Paulus skryf in Galasiërs 4:4: “Maar toe die tyd vervul is, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ʼn vrou, gebore onder die wet, sodat Hy diegene onder die wet kon loskoop, en sodat ons as sy kinders aangeneem kon word.”
Net ʼn paar verse verder skryf Paulus nie meer oor die historiese gebeure nie; geboorte word nou meer figuurlik. Hy word as’t ware die ma: “My kinders, ek ervaar weer geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry” (4:19). Hy skryf dit met ʼn bietjie moedeloosheid (4:20) omdat hy smag dat Christus meer sigbaar sal word in die lewe van hierdie mense. Hy skryf dit egter ook met diep liefde.
In ʼn tyd van afwagting en leegmaak gebeur daar dinge in jou hart. Miskien begin dit met ʼn verlange dat Christus meer gestalte in jou hart sal kry. Dit is ʼn lewenslange verlange, maar Advent herinner ons daaraan en maak dit meer akuut.
Here, skep in hierdie tyd die verlange in ons hart dat Christus meer gestalte in ons lewe sal kry. Amen.
Lisel Joubert