Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is (Jesaja 7:9).
Adventstaal is hooptaal, vreugdetaal, vredetaal en liefdestaal.
Ons hoor elke jaar hierdie verhaal en verlang elke jaar na die geboorte, maar ons verlange bly nuut. Iets in die koms van Jesus raak ons harte elke keer aan.
Die Jesaja-tekste wat ons gereeld in die tyd van Advent lees, maak by ons ʼn verlange na ʼn ander wêreld wakker. Die wêreld wat God wil. Die wêreld sonder geweld, waar wolwe en skape saam bly en babatjies by die gate van adders speel.
Ons verlange moet ons opnuut bewus maak van hoe diep ons lewe in geweld versink het. Geweld op televisie, in ons woorde, in ons huise, tussen kinders, tussen geliefdes. Geweldswoorde, oordeel, slaan en skop. Ons verlang om in God te rus. Ons smag daarna dat niks verniel sal word nie. Ons wag op die tyd dat hierdie woorde waar sal word:
“Op my heilige berg sal niemand kwaad aanrig of iets verniel nie, want die aarde sal so vol wees van die kennis van die Here soos die see vol water is” (Jesaja 7:9).
Ons verlang, Here, na ʼn wêreld waar alles nuut en heel en sonder pyn sal wees. Ons verlang om in U tot rus te kom. Amen.
Lisel Joubert