“Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: ‘Julle is mý kinders’” (Matteus 5:9).
Die tweede Sondag van Advent is die Sondag van vrede.
Sagaria se loflied in Lukas 1:67-79 beskryf God se ingrype in die geboorte van Johannes. Johannes, die profeet wat Jesus se pad gelyk moes maak, dié Jesus wat gebore is om “lig te bring aan dié wat in die duisternis en die skaduwee van die dood lewe, om ons voetstappe te rig op die pad van vrede”.
Vrede is ʼn trick word, ʼn uitvang-woord. Ons kan dink dit beteken om die vrede te bewaar, om nie oor verkeerde dinge te praat nie, om stil te bly. Maar eintlik is die vrede in God om die diepste skeuring en onmin tussen mense te herstel. Dit is praat, noem, oplet, bely en heelmaak. Dit vra om oop te maak wat ons eintlik wil toemaak, om te herstel wat die stukkendste is.
Vrede breek oop en maak heel. Dit is hoekom Jesus die Prins van Vrede is, wat nie sonde kom bedek het nie, maar kom ontmasker het. Wat gekom het om dit wat stukkend is heel te maak.
Advent is nie ʼn tyd van die vrede bewaar nie. Dit is die tyd om te konfronteer om ware vrede moontlik te maak.
Laat ons nie stilbly om die vrede te bewaar nie, Here, maar laat ons só praat en só leef dat ons ware vrede sal vestig, ú vrede. Amen.
Lisel Joubert