Die Here het vir Abram gesê: “Trek uit jou land uit, weg van jou mense en van jou familie af na die land toe wat Ek vir jou sal aanwys” (Genesis 12:1).
In my jonger jare is geloof sterk met sekerheid geassosieer.
Wie glo, só is ons geleer, moes séker wees van hulle heil. Hulle moes bo alle twyfel wéét hulle is gered en sal daarom eendag ʼn ewige lewe erf.
In sy jongste en laaste boek Verwondering: Geloofsrus in ʼn tyd van twyfel voer Jaap Durand aan dat geloof veel meer dinamies en veelvlakkig is. Geloof, so hoor ons in sy boek, het verskeie gestaltes. Dit omvat meer as nét die ervaring van vaste en onaantasbare sekerheid.
Geloof vind ook uitdrukking in ervarings soos hoop, vertroue, ekstase, verwondering, blydskap, verlange en selfs diep vertwyfeling.
Hoe duidelik sien ons dit nie in die Psalms nie. Hier vind ons, soos iemand tereg geskryf het, geloof op die maat van musiek. Wat beteken: Geloof kom tot uitdrukking in jubelende oorwinningsliedere, maar ook in mineur klanke. Dit is liedere vol menslike twyfel, klagtes en versugtinge.
Vir ons wat dikwels twyfel en wonder, bly dit tog ʼn troos dat die Bybel nie enkelvoudig oor geloof praat nie. Abraham moes wegtrek uit sy vertroude omgewing om algaande – ʼn mens kan amper sê padlangs – te leer wat geloof alles behels.
O Here, neem ons by die hand wanneer ons vandag weer die pad van geloof betree. Leer ons die ryke omvang, maar ook die donker dieptes van geloof. Amen.
Carel Anthonissen