Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie (Psalm 62:11).
Wie op God leer vertrou, sal ontdek dat hulle selfvertroue ook begin groei.
Nie net sal hulle die gevoel kry dat hulle lewe op vaste grond gevestig is nie, maar hulle woorde sal nuwe gesag begin dra.
Wie mooi lees, sal sien dat dit presies is wat met die digter van Psalm 62 gebeur het. Toe hy eers in die stilte by God weer sy vertroue in God herwin het, die blye ontdekking gemaak het dat God sy rots en veilige vesting is, begin hy met nuwe oortuiging en selfvertroue praat. Hy begin selfs vir ander goeie raad gee.
Dit is presies om hierdie rede dat Psalm 62 geleidelik vanaf ʼn klaaglied in ʼn stuk wysheid oorgaan – wysheid waarmee die psalmdigter die gemeente en sy lesers met rustige oortuiging kon bedien. En dit is raad of wysheid wat ons vandag nog ter harte kan neem.
Luister net: “Vertrou altyd op Hom … God is vir ons ʼn toevlug … Mense is verganklik, mense is niks … Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie … As jou rykdom toeneem, moenie dat dit te na aan die hart lê nie” (Psalm 62:9-11).
Here, leer ons vandag opnuut op U vertrou sodat ons met groter vryheid, gesag en wysheid kan leef. Amen.
Carel Anthonissen