Soos ʼn wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God (Psalm 42:2-3).
Naas vertroue, is daar nog ʼn woord wat die ryk betekenis van geloof beskryf, en dit is die woord verlange of smagting.
In Psalm 42 word hierdie geloofsverlange selfs met ʼn diepe dors na God in ons lewe verbind (Psalm 42:3).
By sommige mense is hierdie dors of verlange na God dikwels die keerkant of direkte gevolg van hulle diepe vertwyfeling aan God. Waar twyfel sommige mense van God af wegdryf en hulle vertroue in God permanent skade aandoen, bewerk dit by die opregte gelowige dikwels presies die teenoorgestelde. By hulle ontketen twyfel juis ʼn meer intense verlange en dors na God.
Hoe duidelik sien en hoor ons dit nie in Psalm 42 nie!
Gevoed deur die herinnering aan tye toe hy God se nabyheid en hulp persoonlik ervaar het (42:5), word die psalmdigter se aangevegte geloof nou ʼn stuk heimwee, ʼn verlange en ʼn versugting dat God hom nie sal vergeet nie, dat God weer sy trou en goedheid aan hom sal bewys (42:6, 9).
Die merkwaardige en vertroostende werklikheid van hierdie verlange na God is dat dit terselfdertyd ʼn vorm van gebed is – dikwels die enigste soort gebed waartoe ons in staat is.
Maar weet tog: Dit is genoeg. God, so belowe die Bybel ons, hoor die versugtinge en verlangens van sy dorstige kinders.
Selfs al ervaar ons dit nie altyd so nie, sien God dit as geloof.
Here, hoor vandag weer my bede en versugtinge. Sien dit tog aan as geloof, hoe swak en broos dit ook al is. Amen.
Carel Anthonissen