Ek was in rou, maar U het my van vreugde laat dans (Psalm 30:12).
Nog ʼn woord wat die aard van geloof goed beskryf, is dankbaarheid. En ten nouste hieraan gekoppel, is die woord blyskap.
Wie die onverdiende genade van God in hulle lewe ervaar het, voel nie net verlig en dankbaar soos ʼn drenkeling wat uit ʼn onstuimige see opgepik en gered is nie. So iemand se dankbaarheid spoel gewoonlik ook oor in ʼn lag en uiteindelik in uitbundige en dankbare vreugde – presies soos met die digter van Psalm 30 gebeur het (30:12-13).
Wanneer Paulus die gemeente in Filippi wil help om hulle sorge te besweer, is dit dan ook twee van die belangrike woorde wat hy gebruik: “Wees altyd bly in die Here!” (Filippense 4:4). En: “Maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend” (4:6).
Wanneer teenspoed en ellende en die sorge en twyfel wat daaruit voortspruit ons geloofsknieë lam maak, moet ons ʼn slag weer gaan stilsit en sommetjies maak – opnuut gaan kyk hoeveel dinge daar steeds in ons lewe is waarvoor ons dankbaar kan wees.
Jy sal verbaas wees om te ontdek hoeveel dinge en mense daar wel is wat ons dankbaar behoort te maak. En wanneer ons dit opnuut raaksien en waardeer, sal dit nie moeilik wees om bly te wees nie.
Ons blydskap sal spontaan daar wees as bevestiging van ons dankbaarheid.
O Here, bewaar my vandag van daardie angs en paniek wat maak dat ek u gawes in my lewe miskyk. Maak my vandag weer dankbaar en gee my vreugde, selfs al gaan dit swaar. Amen.
Carel Anthonissen