Die mense het hulle verwonder en gesê: “Watter soort mens is hy dat selfs die wind en see hom gehoorsaam?” (Matteus 8:27).
ʼn Mens sal nie verkeerd wees as jy beweer dat die hoogtepunt van egte geloof, die klimaks waarop dit telkens uitloop, matelose verwondering is nie.
In verwondering word twyfel tot swye gebring, die verslaenheid oorbrug, die ontnugtering en opstand besweer en ons angs verdryf. Dit is dan dat ons oë oopgaan vir nuwe, onverwagse en vertroostende werklikhede.
En dan, so herinner menige verhaal in die Bybel ons, ontdek gelowiges dat die God van hulle verlange groter en wonderliker is as wat hulle gedink het. Hulle ontdek dat God die God van verrassings is – die God wat ons klein verwagtings telkens oortref om dit wat onmoontlik gelyk het weer moontlik te maak.
Dit was die verrassende ontdekking wat die dissipels gemaak het dié nag toe die stormsee hulle oorweldig het en Jesus vas aan die slaap was. Hulle het ontdek dat Hy, buiten ʼn begaafde leraar en ʼn geneser van siektes, ook die Heer is wat heers oor die magte van wind en see, van chaos en dood. En wanneer Hy aan boord en teenwoordig is, so het hulle ontdek, is daar niks te vrees nie.
Dié ontdekking het hulle met groot verwondering gelaat.
Here, soos met die dissipels laat die storms van die lewe ons ook baie dae twyfel. Leer ons vandag om met verwondering in U te bly glo – U wat met u liefde oor chaos en dood heers. Amen.
Carel Anthonissen