Toe Jesus sien dat Maria huil en dat die Jode wat saam met haar gekom het, ook huil, het sy gemoed volgeskiet en was Hy aangedaan (Johannes 11:33).
Die kampioen-tennispeler Roger Federer word dikwels as ʼn rolmodel vir jongmense voorgehou.
Kenners wys dan tereg op sy dissipline en toewyding, sy respek vir sy teenstanders, asook sy selfbeheersing en kalmte op die tennisbaan.
Onlangs kyk ek weer na sy historiese oorwinning by die Australiese Ope. En skielik kom daar ʼn ander belangrike eienskap van hierdie bekende tennisheld na vore. Ná die oorhandiging van sy trofee begin hy huil.
Miskien was dit nie ongewoon nie, veral in die lig van sy roemryke loopbaan en die struikelblokke wat hy die afgelope tyd moes oorkom om weer sukses te kon behaal. Maar ek ken mense wat sulke sukses anders hanteer – wat arrogant en selfbehep daaroor swymel. Wat hulleself voortdurend op die skouer klop. Selfs om dié rede by ander verbyleef en op hulle neersien.
Federer is anders. Sy oomblik van roem het hom tot trane van dankbaarheid beweeg. Waardeur hy miljoene kykers wêreldwyd opnuut daaraan herinner het dat niemand so groot en belangrik is dat hulle nie meer soos ʼn kind hoef te huil nie.
Soos in Jesus se lewe is trane dikwels juis die bewys van egte grootheid en opregte deernis met ander.
Here, dankie dat U in u leeftyd ook aangedaan was en gehuil het. Help ons om ons nooit daarvoor te skaam nie. Amen.
Carel Anthonissen