“Jy moet die God van jou vader ken en hom dien met jou hele hart en ʼn gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte” (1 Kronieke 28:9).
Daar is min dinge wat so frustrerend is as wanneer mense jou verkeerd verstaan of verkeerd lees.
Erger nog is wanneer mense hulle vooroordele en komplekse op jou projekteer en só ʼn vals of skewe beeld van jou skep. Jou selfs daarop vaspen sodat jy in sekere kringe ʼn slegte naam of reputasie kry. Selfs afgeskryf word.
Baie mense ken hierdie pynlike vorm van etikettering. Ursula le Guin, die bekende skrywer wat onlangs oorlede is, was in ʼn stadium ʼn slagoffer hiervan. Ten onregte is sy deur sommige kritici gekategoriseer as hoofsaaklik ʼn skrywer van populêre wetenskapfiksie. Maar sy het geweet: “Ek is ook ʼn digter en skrywer van ernstiger werke.”
Haar verweer teen sulke kritici was gewoon: “Don’t shove me into your damn pigeonholes where I don’t fit, because I am all over. My tentacles are coming out of the pigeonhole in all directions.”
Nie almal het die gesag en woorde om só teen kwaadwillige kritici op te staan nie. Vir ʼn gelowige bied sulke kritiek sy eie uitdagings. Waarskynlik is dit genoeg om te weet: God ken ons en peil die bedoelings van ons gedagtes. En dat ons, terwyl ons rus in dié wete, ons eie gang moet gaan sonder om onsself te veel te probeer verdedig of verduidelik.
Here, wat ʼn troos dat U ons harte en die bedoelings van ons gedagtes ken. In dié wete wil ek vandag rus. Amen.
Carel Anthonissen