Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Moenie aanstoot gee nie, nie aan Jode of aan Grieke of aan die gemeente van God nie (1 Korintiërs 10:31-32).
Daar word ʼn wonderlike storie vertel oor twee van die heel bekendste Spaanse mistici van hulle leeftyd: Teresa van Avila en Johannes van die Kruis.
As goeie vriende wat mekaar dikwels gesien het om geestelike insigte te deel, het hulle eendag saam aangesit vir ete. Tydens die maaltyd is hulle met ʼn bak heerlike vars druiwe bedien. Johannes se eerste reaksie was dat hy nie daarvan gaan eet nie. As rede het hy aangevoer: “Daar is te veel mense wat niks het om te eet nie.”
Hierop het Teresa geantwoord dat sy wel van die druiwe gaan eet. Haar rede was: “Omdat ek God vir hierdie sonderlinge gawe wil prys.”
Hierdie verhaal herinner ons aan ʼn groot waarheid. Dit is dat God op verskillende tye deur verskillende mense op verskillende maniere gedien en geëer kan word. En dat ons in ons diens aan God versigtig moet wees om nie te eng-dogmaties en daarom onbuigsaam en onverdraagsaam te raak nie.
Trouens, die onderlinge liefde verg dat ons in ons soeke na God se wil en eer altyd ruimte sal maak vir ander moontlikhede en maniere om God te dien.
Dít terwyl ons ons eie roeping steeds met selfvertroue en oorgawe uitleef.
Here, vergewe my dat ek dikwels so eng en benepe leef, asof U net een ding van ons as u kinders vra. Hou ons oë oop vir die ruimheid van u werk en hoe U ons elkeen op ʼn eie unieke manier gebruik. Amen.
Carel Anthonissen