Lê jou daarop toe om jou tot beskikking van God te stel as ʼn arbeider wat die goedkeuring van God wegdra, ʼn arbeider wat hom vir sy werk nie hoef te skaam nie (2 Timoteus 2:15).
ʼn Oud-onderwyser van my vertel my onlangs van ʼn mooi episode uit sy lewe.
Hy is aangestel as ʼn onderwyser by die kinderhuis in Ugie in die Oos-Kaap. Hierdie huise is destyds weeshuise genoem en het ʼn heenkome gebied aan kinders wat weens allerlei redes nie meer ʼn ouerhuis gehad het nie, soos die dood van albei ouers, armoede of mishandeling.
Alleen moes hulle hierdie verlies of leemte in die ruimte van ʼn kinderhuis leer verwerk en hulle pad deur die lewe vind.
Binne dié konteks het hierdie onderwyser sy loopbaan begin. En dit was nie aldag maklik of lekker nie. Dié werk het groot opofferings en geduld gevra. In so ʼn mate dat hy dit ná ʼn relatief kort tydperk daar oorweeg het om te bedank.
ʼn Keerpunt was egter toe hy met sy leraar hieroor gaan praat het. Dié se woorde was kort en kragtig. “Ek verstaan waarom jy wil gaan. Al wat ek kan sê, is: Jy sal nêrens ʼn meer edel werk as dit vind nie.”
Onnodig om te sê, hierdie woorde het die onderwyser nie net diep geraak nie; dit het ook daartoe gelei dat hy sy besluit hersien en jare langer daar bly werk het.
Want hy het die vreugde begin ervaar van ʼn werk wat ʼn edel roeping inhou.
O Here, gee ons vandag die vermoë om te onderskei tussen werk wat net vir onsself bevrediging bring en ʼn werk wat ʼn edel roeping inhou. Amen.
Carel Anthonissen