Vir swakkes het ek swak geword om swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê (1 Korintiërs 9:22-23).
Ek het ʼn kollega wat al sy briewe aan vriende afsluit met die interessante en selfs ietwat seldsame frase: “In verbondenheid”.
Daarmee, so lei ek af, wil hy as ʼn soort afskeidswoord laat blyk dat hy homself verbind ag aan die ander en in die toekoms steeds naby aan hulle wil bly.
Wie Paulus se lewe mooi volg, sal sien dat dit ook die woorde of term was wat sy diens of roeping aan Christus beskryf het: ʼn diepe verbondenheid aan die ander. Hierdie verbondenheid, so sien ons in 1 Korintiërs 9, het prakties uiting gevind in ʼn merkwaardige vorm van solidariteit.
Paulus was bereid om, ter wille van die ander se geluk en heil, in alle omstandighede met hulle mee te leef, maak nie saak wie of wat hulle was nie. Paulus beskryf dit só: “Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommiges te red” (1 Korintiërs 9:22).
Waarskynlik bly dit een van die moeilikste opdragte van die evangelie – om jou in verbondenheid met ander volkome met hulle lewe en lot te vereenselwig. En om hulle dáár waar hulle is met begrip, liefde en sorg te bly bedien. Tog is dit die pad waarop Christus ons telkens roep.
Dat hierdie pad vrugbaar en vol verrassings sal wees, is gewaarborg. Dit verseker Paulus ons (9:23).
Here, verbind aan U, wil ek myself vandag opnuut met liefde aan ander verbind. Help my daartoe. Amen.
Carel Anthonissen