Iemand wat God se boodskap verkondig, rig hom tot mense en praat woorde wat geestelik opbou en bemoedig en troos (1 Korintiërs 14:3).
Tereg skryf iemand dat die oproep om Christus te volg nie net een maal in ons lewe tot ons kom nie.
Nee, as gelowiges kan ons weet en moet ons gereed wees dat dit meermale en in verskillende situasies na ons toe sal kom. Wat ons in ons jeug as God se wil vir ons lewe verstaan het, kan dan natuurlik in ons later jare anders lyk.
Tog, terwyl die praktiese uitlewing van ons roeping mettertyd kan wissel en skuif, bly die inhoud daarvan dieselfde.
Dit is om in solidariteit met ons broers en susters te leef – dit wil sê, om te leer om altyd saam met hulle bly te wees en in hulle vreugdes te deel, maar om ook by hulle te wees wanneer hulle swaarkry en pyn verduur.
Verder beteken dit om buite die knus geloofskring gedurig bewus te wees van die geroep en gekerm van dié wat uitgestoot, eensaam en verlate voel. En dan met sorg en deernis daaraan aandag te gee. Ons mag ook die groot roeping wat in ons leeftyd so dringend geword het – om vir God se goeie skepping te sorg – nooit vergeet nie.
So ʼn geroepe lewe vra dat ons ons eie belange elke dag sal opskort en ons lewensprioriteite sal herrangskik. ʼn Stap wat daartoe kan lei dat ons ter wille van Christus se saak en opdrag soms sal ly en swaarkry.
Maar presies daarin pols die egte lewe.
Here, ons werk is dikwels vir ons vermoeiend en swaar. Leer ons elke dag die vreugde van werk wat ʼn roeping inhou. Maak ons lewe ʼn antwoord op u roepstem. Amen.
Carel Anthonissen