Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Net waar jy is

Julle moet niemand iets verskuldig wees nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet van God uit (Romeine 13:8).

Tydens ʼn gedenkdiens vir ʼn hoogs gerespekteerde en uitgesproke Christen-akademikus, vertel sy dogter van die positiewe invloed wat hy op haar lewe gehad het.

Sy vertel hoe sy hom eendag meegedeel het dat sy graag ʼn sendeling wil word, verkieslik op ʼn plek waar mense haar getuienis nodig het en sal waardeer.

Hierop was sy reaksie dat sy moet weet: Wie bely dat hulle Christus volg, word onmiddellik ʼn sendeling. Dit sluit nie noodwendig ʼn spesiale roeping na ʼn spesiale plek in nie. Ons as gelowiges
word geroep en gestuur om net daar waar ons is, in die gewone lewe, terwyl ons ons normale beroepe beoefen, God te dien en sy goeie boodskap uit te dra.

Soos een kerkvader dit gestel het: “Die stof aan jou voete moet jou hele lewe omhul en deurtrek.”

En die boodskap wat deur ons alledaagse lewe vergestalt moet word, is dat Christus mense liefhet, meer as wat hulle ooit sal besef of kan verdien. En dat dít die groot geheim van die lewe is.

Om aan te sluit by die groot sendeling van alle tye, Paulus van Tarsus: Ons skuld die mensdom niks meer en niks minder nie as hierdie bevrydende boodskap.

Here, leer my vandag weer om daar waar ek is ʼn draer van u liefde te wees. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.