Die môre vroeg, toe dit nog nag was, het Hy opgestaan en buitentoe gegaan na ‘n eensame plek en daar gebid … Hy het toe gegaan en dwarsdeur Galilea in hulle sinagoges gepreek en duiwels uitgedryf (Markus 1:35, 39).
Een van die vele uitsprake van Dietrich Bonhoeffer, die Duitse teoloog, lui dat die kragtigste woorde meestal in stilte gebore en vanuit stilte gespreek word.
Die rede hiervoor is dat stilte ʼn soort selfbewussyn skep wat ons help om ons woorde versigtiger en eerliker te kies. Anders as woorde wat deel van die geklets van elke dag vorm en dikwels daarop uit is om te skinder of te spog of ander te beheer, het woorde wat uit stilte opkom ʼn ander kwaliteit.
Dit is meestal meer oorwoë, begrypender en sagter, maar tog ook vol gesag en waarheid, presies soos Jesus se woorde toe Hy die mense begin leer het. Of duiwels uitgedryf het. Markus vertel dat die mense eenvoudig verstom was oor Jesus se woorde. Dit het meer gesag gedra en was meer bevrydend as dié van die Fariseërs (Markus 1:22, 27).
En dan, sonder dat die leser dit onmiddellik opmerk, gee Markus ʼn entjie verder vir ons die sleutel hiertoe. Dit is dat Jesus kort voordat Hy uitgegaan het om te preek eers in die teenwoordigheid van sy God stil geword het. Byna terloops, maar treffend, vertel Markus dat Jesus vroeg, voordat die son op was, buitentoe gegaan het, na ʼn eensame plek, om daar te gaan bid (1:35). En daarna het Hy opgestaan om te gaan preek (1:38-39). Asof die stilte en God se liefdevolle aanraking in die stilte Hom daarvoor gereed gemaak het.
Weliswaar word ons almal nie geroep om ernstige predikers en leermeesters te wees nie. Tog kom daar in ons almal se lewe tye wanneer ons moet en graag wil praat, wil deelneem, wil vertel.
Dan is dit goed om Bonhoeffer se woorde en Jesus se voorbeeld te onthou. Ook dat stilte alleen geen verleentheid hoef te wees nie. Stilte praat dikwels harder en duideliker as woorde.
Here, gee ons vandag daardie stilte wat ons nader aan onsself kan bring. Stilte wat ons woorde gesagvoller en eerliker kan maak. Amen.
Carel Anthonissen