Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie duiwels uitgedrywe (Markus 1:34).
Volgens die Evangelie van Markus was Jesus se gesagvolle woorde waarmee Hy die skare beïndruk en duiwels uitgedryf het ʼn teken dat die mag van God onder mense teenwoordig was (Markus 1:15).
Daar was egter ook ʼn tweede belangrike teken van God se teenwoordige mag: Jesus se genesingwonders, sy dade waardeur Hy mense van hulle kwale genees het.
Wie mooi lees, sal sien dat hierdie kwale en gepaardgaande genesings op twee vlakke gelê het. Die eerste was die genesing van liggaamlike siektes, soos Petrus se skoonma wat aan ʼn hoë koors gely het (1:30-31). Die tweede, wat vir ons vandag uiters relevant geword het, is die genesing van allerlei geestelike en emosionele kwale. In Jesus se leeftyd is hierdie kwale ten nouste aan bose invloede verbind (1:34). Vandag weet ons hierdie innerlike siektes is ook die gevolg van verwaarlosing en ʼn gebrek aan liefde.
Moeder Teresa het groot insig hierin getoon toe sy geskryf het:
“The biggest disease today is more spiritual than physical. It’s not leprosy or tuberculosis, but rather the feeling of being unwanted, uncared for and deserted by everybody. The greatest evil is the lack of love and charity, the terrible indifference towards one’s neighbour, who lives at the roadside, assaulted by exploitation, corruption, poverty and disease. Medical sickness is bad enough. The lack of love is darkness that leads to death. Life without love is impossible.”
Wie innerlik deur liefde genees en versterk is, weet ook – so leer ervaring ons – hoe om liggaamlike siekte met waardigheid en geduld te dra.
Here, gee ons vandag meer van u liefde en sorg wat mense innerlik kan genees. Amen.
Carel Anthonissen