God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep (Genesis 1:27).
Tydens ʼn retreat ʼn paar jaar gelede vertel die leier vir ons ʼn interessante verhaal.
ʼn Geestelike gemeenskap het jare lank die beeld van hulle god, wat van klei gemaak was, met groot sorg en eerbied bewaar en aanbid. Tydens ʼn storm een nag is hierdie beeld egter beskadig. Daar het ʼn kraak in die beeld verskyn.
By nadere ondersoek ontdek die lede van die gemeenskap ʼn vreemde lig wat deur die kraak na hulle toe skyn. Tot hulle verbasing sien hulle dat daar onder die klei ʼn ander beeld van hulle god versteek is, ʼn goue beeld.
Tydens vroeëre konflik in die gemeenskap het sommige van die lede, skynbaar uit vrees dat die goue beeld gesteel sou word, dit met klei bedek en só probeer bewaar. Maar ʼn volgende geslag het mettertyd heeltemal daarvan vergeet.
Die leier het destyds hierdie verhaal vertel om ons te herinner aan die unieke waarde ons bestaan. Net soos met die goue beeld, is daar agter die stoflikheid van ons bestaan, die verganklike klei waaruit ons gevorm is, spreekwoordelik ʼn stuk goud verskuil. Ja, iets van God self, van sy beeld wat onaantasbaar en onvernietigbaar is.
Hoe belangrik dat ons dít sal onthou, veral in tye van storms wanneer ons broos voel en aan onsself en ons waardigheid begin twyfel.
In ons almal is daar ʼn stuk suiwer goud wat wag om ontdek en ontgin te word.
Here, dat daar iets van U in ons leef, is te hoog vir ons verstand. Kom, Heilige Gees, maak ons oë daarvoor oop. Amen.
Carel Anthonissen