En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê (1 Johannes 4:21).
Een van die merkwaardige karakters in die Russiese skrywer Fjeodor Dostojefski se bekende boek Die broers Karamazov is die Russiese monnik of staretz, Zossima.
Sy bekende rede oor die unieke aard, omvang en mag van die Christelike liefde bly tot vandag toe ʼn belangrike riglyn vir almal wat Christus se voorbeeld met erns wil navolg.
Self het Zossima geglo dat die eiesoortige intensiteit van Christus se liefde ʼn krag is wat die hele kosmos kan verander.
In dié verband vertel hy dan hoe hy dikwels verstom staan voor die donker dieptes van menslike sonde en verval, die ongelooflike wandade en vergrype waartoe die mens in staat is. En dan is hy altyd onseker hoe om daarop te reageer. Moet hy dit met mag en geweld bestry, of met nederige liefde? En altyd, so getuig hy, kies hy die weg van nederige liefde.
Want, en daarmee sluit hy sy betoog af, wie eenmaal dié weg gekies het, ontdek algaande dat hulle in staat is om die hele wêreld te oorwin. In sy woorde: “Loving humbly is a terrible force: it is the strongest of all things and there is nothing like it.”
Beslis mooi woorde vir ʼn gewelddadige eeu. Die vraag is egter: Glo ons dit? En belangriker nog: Sien ons, soos Zossima, kans om dié keuse oor en oor te maak?
Here, neem vandag weer ons hand en leer ons die geheim van u liefde wat die wêreld kan oorwin. Amen.
Carel Anthonissen