Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe en ek sal bly terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae (Psalm 23:6, Direkte Vertaling).
Onlangs tydens ʼn gedenkdiens ontdek ek ʼn nuwe en verrassende waarheid oor God in Psalm 23.
Dit is dat God nie net die goeie Herder is wat belowe het om ons as sy kudde te versorg, te beskerm en te lei nie.
Hy is ook die God wat ons agtervolg – met sy goedheid en sy guns. Helder en duidelik staan dit daar in die laaste vers van hierdie psalm: “Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe” (Psalm 23:6).
God agtervolg ons met sy goedheid en troue liefde … en dit ons lewe lank. Wat ʼn merkwaardige en tog beskamende waarheid!
Want hoe min is ons regtig ingestel op die geknars van God voetstappe agter ons, die roep van God se stem in die nag van ons verlorenheid. Hoe min is ons daarvan bewus dat God, veral wanneer ons verdwaal en verlate is, telkens die spoor vat om ons te kom soek.
Dáárvoor – om ons te vind en tuis te bring by ons ware bestemming as mense – het God in Christus na ons toe gekom en uiteindelik sy lewe gegee.
Dit was hierdie ontdekking van God se knaende en agtervolgende liefde wat ʼn bekende kerkvader laat uitroep het: “Nou ken ek God se geheim. Dit is dat Hy my eerste liefgehad het. En dat ek dit nooit geweet het nie.”
Weet jý dit, liewe leser?
Here, ons buig in dankbaarheid voor U omdat U ons eerste liefgehad het. En omdat U nooit ophou om ons met u liefde te agtervolg en te soek nie. Amen.
Carel Anthonissen