Ananias het toe vertrek, en die huis binnegegaan en hom die hande opgelê met die woorde: “Saul, broer, die Here het my gestuur … sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul kan word” (Handelinge 9:17).
Ek was reeds tien jaar besig met pastorale werk toe ek vir die eerste keer van geestelike begeleiding (“spiritual direction”) gehoor het.
Dit was ʼn laat ontdekking in my lewe.
ʼn Goeie vriendin en vroulike teoloog uit die Anglikaanse konteks was destyds baie verbaas hieroor: dat mense wat herders vir ander moes wees nie self iemand gehad het wat toesig oor hulle geestelike lewe kon hou nie.
Ek het destyds werk hiervan gemaak en met verloop van jare twee wonderlike begeleiers gehad. In dié tyd het ek die onmisbare waarde en betekenis van geestelike begeleiding leer ken.
Anders as sielkundige hulp, wat meesal op emosionele steurnisse en angs fokus en dikwels oor ʼn korter tyd strek, is geestelike begeleiding meer deurlopend en lang termyn. Dit is ook op geestelike groei en volwassewording ingestel.
Trouens, die hooftaak van die begeleier kan beskryf word as hulp met geestelike vorming. In die woorde van Kenneth Leech, die bekende Anglikaanse priester en skrywer:
“The spiritual director is not simply someone who teaches a spiritual technique, but he/she is a father/mother who helps to shape the inner life of their children through prayer, concern and care.”
Meer nog, soos met Ananias, is ʼn geestelike begeleier iemand wat deur God gestuur is om ander te help om God se werk in hulle lewe raak te sien (Handelinge 9:17).
Here, dankie vir geestelike begeleiers wat ons help om u werk in ons lewe raak te sien. Help ons om vandag u stem vir ander te wees. Amen.
Carel Anthonissen