Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit ʼn rein hart, ʼn goeie gewete en ʼn opregte geloof kom (1 Timoteus 1:5).
Die rede waarom sommige mense ongemaklik oor geestelike begeleiding voel, lê onder meer opgesluit in die Engelse term “spiritual direction”.
Dié term impliseer iemand wat ander op hulle geestelike pad daadwerklik en dwingend die koers moet aandui.
Dié implikasie is omstrede en word tereg betwis. Die rede? Die groot wegwyser of koersaanduider in geestelike begeleiding is niemand anders nie as God se eie Gees. God se Gees wat in ons woon, wat ons lewe met liefde vul en só aan iets van Christus self in ons lewe gestalte gee.
ʼn Begeleier wat in God se liefde gewortel is, is daarom niks anders as ʼn soort fasiliteerder nie, iemand wat die ander help om hierdie werk van God in hulle lewe raak te sien en met oorgawe en wederkerige liefde daarop te reageer. Tereg skryf iemand dan ook oor gesonde geestelike begeleiding:
“It is a process in which one individual facilitates another’s awakening to true identity and to God’s presence by increasing their conversation and communion with God and by promoting surrender to God’s will and love.”
Wie mooi na Paulus se opdrag aan Timoteus luister, sal besef dat ons almal hiertoe geroep is.
Here, U verseker ons elke dag van u liefde. Help ons om ander mense daarvan bewus te maak dat hierdie wonderlike toesegging ook vir hulle geld. Amen.
Carel Anthonissen